SELFS IN DIE BOS VERGEET JY

S

Elke oggend word ek wakker met ’n ys-koue koppie koffie wat wag op my bedkassie. Indiana staan saam die bospatryse op. Sy kop-vergaderings begin al vroeg. Ek is nie ’n morning person nie. Liefie aanvaar dit en maak elke oggend sonder uitsondering vir my half-ses ’n koppie koffie. Hy weet goed ek gaan eers na sewe verward wakker skrik, maar staan altyd gereed om my koue koppie te gaan microwave terwyl ek skarrel-skarrel reg maak om stiptelik half-agt op kantoor te wees.

Nou die môre begin my dag met ’n hoop eposse wat wag. Gewoonlik doen ek goed om elke uur of so my bene te strek, maar Maandae slaan mens altyd anders. Toe ek weer kyk is dit al na een en eks steeds nie deur die eposse gewerk nie. Eers is ek kwaai met myself, hoe is ek dan nou so stadig? My eintlike werk het nog nie eers begin. Ek probeer daai al bekende druk op my borskas onder beheer kry en dink aan al die oggend se onderbrekings. ’n Paar nuwe pasiënte het Lief toegepak en almal is tog te nuuskierig om uit te vind waar ek nou in die prentjie pas.

Na ’n half-uur se stoei met myself, besluit ek om op te pak en daar in die bos te gaan sit en werk. Niemand pla daar, en al is dit soms eensaam, het ek al geleer stilte is produktiwiteit se vriend. Eks net lekker ingesettle by die huis – kom die skoonmaker in die kamer in gehardloop. “Elna, Elna, I need, please, the pain stop.” “The Pain Stop?” “Yes, my mind’s not right!” “Do you have a headache?” “No, not headache.” “Do you feel dizzy or …?” “No, no, please I just need the pain stop.” Ek probeer hard om agter die kap van die byl te kom. Van die angs in Gift se stem en die op-en-af trippel terwyl sy smeek vir Pain Stop, slaan ek maar die rekenaar toe en besef my volle aandag word nou elders benodig.

Did something happen?” “Yes!” “What happened?” “There, at the sink, something went zzz-zzz on my arm. So I ran into the kitchen and my head, my arm, it’s all just, zzz-zzz, so I come to you Elna. I need the pain stop.” Ek kan nie help om my lag te onderdruk nie. Die oor-dramatisering van Gift se beskrywing en die namaak van skokgolwe, is moeilik om nie voor te lag nie. Ek vra Gift om my te gaan wys waar die “zzz-zzz” gebeur het. Sy weier volstrek en beduie ek moet self daar by die buitenste wasbak gaan kyk. 

Die wasbak is vol water getap. Uit ervaring weet ek om nie my hand daarin te druk nie. Ek gaan kry ’n koppie en begin so koppie-vir-koppie die seep water uit skep. Die bodem kom in sig en ek besef waar die “zzz-zzz” vandaan kom. Tussen die seep en blare lê daar ’n Mosambiekse skerpioen. Gift het regtig nodig vir die ‘Pain TO Stop. Van my eie run-in met ’n skerpioen ’n paar maande terug, weet ek dis donners seer. Met nuwe simpatie hardloop ek vrieskas toe vir ys, terwyl ek vir dokotela in die hande probeer kry op die foon.

Drie ure later, met ’n dokter’s besoek, ’n lang stop by die pharmacy, ’n drop-off by die bus halte en ’n garage-run vir’n pakkie sigs, laat weet Lief hy is al klaar by die werk. In die laeveld groet die son ons al half-ses in die winter. Soos ek ry om vir Indiana by die werk te gaan haal sien ek die son voor my sak. My hele dag, soos Oupa sou sê; “poer in sy moer”. Eerste ding wat Lief vra toe hy in die kar klim is; “wat’s fout?” Ek het al van die mans in my lewe geleer om Lief die guns te doen en net dadelik en direk te sê wat pla. “Eks hartseer, want ek het vergeet”. “Wat het jy vergeet?” “Hoekom ons in die bos is…” 

Verward en sonder woorde haal Lief vir my ’n sig uit die nuwe pakkie en hou die stuurwiel vas dat ek kan aansteek. Eers nadat beide ‘n pull weg het sê Lief; “vertel my meer”. Ek begin my ongemak vir hom te verduidelik. Eers lys ek alles waarby ek vandag nie uitgekom het nie, dan die normale skuldgevoelens rondom dit. Die hoë verwagtinge wat ek aan myself stel is steeds iets wat Indiana nie altyd verstaan nie. Toe ons eers voet aan wal gesit het in die Spruit, het ek myself belowe om meer present te wees, in die nou te lewe, en nie te veel te bekommer oor die onvoorspelbare toekoms nie.

Dit was aan die begin maklik, alles was nuut. Elke kameelperd en zebra het my laat stil staan in dankbaarheid, tog nou is dit net nog ’n sighting – klaar gewoond. Hoe is dit dat mens so gou vergeet? Hoe is dit dat ons so vinnig weer opgevang kan word in die gejaagdheid en die mooi van die hede mis kyk? Dié dood gewone Maandag het my laat skaam kry oor my ou gewoontes. Daai wat ek altyd soos ’n ‘badge of honour’  in die stad mee rondgeloop het. Die antwoord op, “hoe gaan dit” was altyd, “te besig om te kla” – asof dit ’n prestasie is om besig te wees.

Ek bevind myself met ’n snaakse dankbaarheid teenoor die Mosambiekse skerpioen. Glad nie dankbaar dat Gift moes seer kry, maar dankbaar dat dit my tot stilstand geroep het en laat vergeet het van die eposse. Dankbaar dat dit my terug geruk het in die nou. Ek deel met Lief Brianna West se quote wat ek so paar dae terug uit blote toeval ontdek het; “You may believe that living life to the fullest is seeing every country in the world and quitting your job on a whim and falling recklessly in love, but it’s really just knowing how to be where your feet are.” 

Ek vra Lief om my te help onthou waar my voete is. Onthou om in die nou te lewe en die toekoms oor te laat aan die Een wat reeds daar is. Dan maak ek ’n baie groot belofte; “Liefie, môre as jy my koffie bring – maak my asseblief wakker. Ek belowe ek sal opstaan.” Ek wil die son opkoms sien en saam die bospatryse die hoop van ’n nuwe dag verwelkom.

Deur Elné Potgieter

Elné Potgieter

Meer oor die skrywer

Elné is 'n rebel en avonturier uit die Vrystaat. Haar swerflus en verskeidenheid stokperdjies het haar al regoor die wêreld geneem. Met 'n agtergrond in joernalistiek en strategiese kommunikasie, rig sy haar aandag op betekenisvolle Suid-Afrikaanse projekte. Sy is nou besig om haar nuutste avontuur aan te pak, waar sy met pen en papier mense aan die dink sit.