Ken jy die Civet?

K

Nog ‘n laat aand vir liefie by die werk en ek bevind myself na sononder alleen in die bos. Daar is regtig nie meer ‘n bang haar oor op my kop nie. Ekt die bos al goed leer ken. Rudi het al so baie rympies in my keel af gewurg, ek twyfel of ek dit ooit sal vergeet. My eie Indiana Jones. Met spinnekoppe; “if it’s flat, don’t clap – if it has a sack, give it a whack”. Slange en bos likkewane is maklik – hulle skarrel vinnig as ek begin rond trippel en my soos ’n drama queen gedra. 

Ek dink aan Rudi wat nog werk en oorweeg om self ’n paar uur voor die rekenaar in te sit. Die meatloaf is in die oond, die aartappels kook en die slaai is gemaak. Nie dat ek myself enigsins huisvrou hou nie. Rudi het al mooi geleer, hier is alles fifty-fifty – ons is ’n team. Soos Oupa sou sê; “elkeen doen wat hy kan.” Vandag kon ek sorg vir kos. 

Ek oorweeg weer die werk – ek weet ek voel eintlik net skuldig omdat een van die span werk en die ander sit op die stoep. Eks regtig nie lus nie… Ek skuif my skuldgevoelens en rekenaar opsy, en stuur goeie vibes na Rudi se kant toe. Vinnig trek ek die pakkie sigs nader en besluit, ‘I’m taking a self-ish’. Voor ek kan opsteek hoor ek iets in die bos. Dis nie ’n normale geluid nie, ek ken al die usual suspects.

Ek soek na die flits – vloek onder my asem, want die donnerse ding is weer nie op sy plek gebêre nie. Ek stap stadig in die rigting van die geskarrel en kom tot stilstand. ‘n Civet-kat, reg voor my, agt meter in. Ons maak oogkontak en ek voel wel so enkele, oorblywende, bang haar pla op my kop. Ek het nog nooit die Civet gesien nie en Indiana is nie by die huis nie. Ek gaan sit plat op die grond en besluit om net die oomblik in te neem. Daar is ‘n respek wat die Civet afdwing. Mens leer om die verskillende diere se natuur aan te voel. Die Civet straal amper ’n majestueuse energie uit. Ek skuif rond en stamp ’n tak met my voet. Daar gaat hy, in sy moer in – gone. 

Ek gaan sit weer op die stoep. Heeltemal vergeet van my sig – nou moet ek eers Google. Van kleins af was ek altyd lief daarvoor om simboliek in goed te soek. Dis nie dat dit enigsins my spiritualiteit of geloof beïnvloed nie, maar dit gee my ankers. Soos ’n rock climbing wall – die muur is natuurlik belangrik, maar die klim vashou grips teen die muur help donners baie om bo uit te kom. Dit was my verduideliking aan Rudi toe ek vir hom sê ons moet ons nuwe karretjie ’n naam gee – een met betekenis. ‘Drolkewer’ het heel gepas gekom, met sy ‘new beginnings’ as simboliek. Plus, ons is beide op ons eie manier lief vir kak soek.

Volgens Google leer die Civet jou hoe om jou persoonlike ruimte (boundries) te beskerm terwyl hy jou wys hoe om die meeste uit jou energievoorraad te kry. Ha, dink ek, so gepas vir ‘mevrou-kan-nie-nee-sê-nie’. Ek lees aan om te sien dat die Civet ’n soettand het. Sy voorliefde vir soetighede skep ‘n verband met genotvolle aktiwiteite en ekstatiese ervarings. Hy kondig homself sonder verskoning aan, en herinner jou aan jou waarde as ‘n unieke individu. Dit is tyd om jou hele wese te omarm en vrede te maak met jou siel se kontrak in hierdie leeftyd. Ek stop kort toe hulle begin voorstelle maak oor watse kristalle ek moet aanskaf om die Civet te lok.

Ek dink weer aan lief by die werk en kan sy teleurstelling aanvoel… As hy moes sien wat ek Google. In plaas van oplees oor die Civet se habitat, gedrag, ekologie – jy weet al die facts and figures, hou ek myself besig met die Civet as ’n dierlike totem. Genade, die man sou gevoel het asof hy gefaal het in sy natuur-opvoeding aan my. Voor ek myself kan slim Google, hoor ek die Drolkewer in die oprit. Ek kan my opgewondenheid nie keer nie. Ek hardloop na my maatjie – wat ‘n bos storie het ek nie vir Indiana nie.

Deur Elné Potgieter

Elné Potgieter

Meer oor die skrywer

Elné is 'n rebel en avonturier uit die Vrystaat. Haar swerflus en verskeidenheid stokperdjies het haar al regoor die wêreld geneem. Met 'n agtergrond in joernalistiek en strategiese kommunikasie, rig sy haar aandag op betekenisvolle Suid-Afrikaanse projekte. Sy is nou besig om haar nuutste avontuur aan te pak, waar sy met pen en papier mense aan die dink sit.