Die dag hardloop soos enige ander hier in die bos. Die eensaamheid vang jou, maar die natuur lewe sorg vir eindelose vermaak. Die angs en gedruk van die stadslewe nêrens te vinde. Dit was nie ’n maklike besluit om sak-en-pak die stad te groet en met een klein vrag – ons drolkewer elke gaatjie toegepak – die pad aan te durf bos toe nie.
My enigste oorweging om al my vriende, familie, werk en die wêreld wat ek al van 18-jarige ouderdom ken te groet, was dat dalk – in die stilte – ek weer myself kan vind. Weg van die geraas en die opinies wat vir vyf-en-dertig jaar my pad bepaal het. Ek wou uit. Ek wou oor begin. Ek wou my essensie in die oë staar en sê; “ja, dié keer gaan ek luister”. Dié keer gaan ek waag om my volle self te wees.
Die aankoms in die bos was exciting. Ons word gegroet deur ’n familie vlakvarke wat die Hoedspruit verkeer ophou, terwyl hulle teen slakke pas, met stert antennas hoog in die lug oor die pad stap. Ek giggel van opgewondenheid – ons het dit wraggies gedoen. ’n Goud-geel four-seater Cesna kom in vir landing agter Spar, en ek koes in die kar soos wat die vliegtuig sy final approach maak aanloopbaan toe. Ons draai in by ons nuwe estate en wag geduldig vir die ou Kameelperd bul om klaar te eet aan die hoë blare wat slegs bereikbaar is as hy in die middel van die pad staan. Ek en Rudi kyk na mekaar, albei stil te vrede – ons het stukkende verkeersligte verruil vir die Afrika grondpaaie.
Rudi soek vir my hand en vat dit in syne. “Vir jou het ek so lief ”, sê hy met daai blou oë wat my kneë al jare lam het. Ek onthou die 12-jarige laaitjie, in sy groen en blou Vaalpark laer sportsdrag. Met sy tennis gear oor sy skouer, diep in gedagte, stap hy verby my dansskool. Dis snaaks hoe mens dadelik aangetrokke kan wees aan iemand se siel… Ons love story is ’n goeie een. Beter as wat ek kon droom toe my Little Mermaid tape in die video speler vas sit en ek gretig wag vir my prins Eric.
Soos ons nader kom aan Jack’s Causeway, ’n lae-water brug in die estate, sien ons karre staan, al die mense buite. Rudi stop die kar en sê hy sal vooruit stap en gaan kyk wat gaan aan. Die hoek van waaruit ek kyk sien ek niks – dalk is daar ’n sighting – al die mense staan met hulle kameras en fone in die hand. “Die brug het oorspoel, maar ek dink ons sal dit kan maak”, sê Rudi soos hy terugklim in die kar. Ek kyk agter toe na ons gelaaide waentjie en terug na Rudi; “Go for it, lief – you got this,” sê ek met blindelingse vertroue.
’n Oom kom aangestap en hang by Rudi se oop venster in. “Is jy seker julle is swaar gelaai?” “Ja Oom, die karretjie is gepak.” “Goed so, daar is nog nie karre vandag daar deur nie, maar as jy net in eerste-rat bly behoort jy dit te maak.” My oë rek en ek kyk soekend na Rudi, “chill lief”, sê hy “ons het dit.” Rudi sit die kar in low-range en trek weg, stadig kom ons om die draai en ek sien vir die eerste keer die rivier wat 10 meter verder oor die pad stroom. Ek sê niks, gryp net stewig aan die boonste deur handle vas en mompel ’n kort skiet-gebed. Ons poging het menigde toeskouers gelok, Tannies en Ooms staan almal gereed met hulle foon kameras om die storie af te neem. Ek flippen hoop dis nie vir die koerant nie, dink ek by myself, dis nie hoe ek wil naam maak in Hoedspruit nie.
Ons is amper deur, toe ’n dwarsstroom die Jimny tref en ons daai ‘hol-in-jou-keel’ gevoel kry. Dit voel of ons weg gevee word met die stroom. Ek kyk in my kant speeltjie terug na die waentjie, wat nie meer daar is nie. Heeltemal onder water en ek bekommer dat die laaste bietjie besittings wat ons oor het weggespoel het saam die Blyde rivier. Rudi gee vet, en trek die (osse)wa deur die drif. Die toeskouers klap hande en ’n Oom kom aan gehardloop om Rudi op die skouers te klop. Bliksem, klaar celebs en ons het nou net hier aangekom.
Dis stil vir ’n paar minute in die kar toe Rudi die stilte breek, “Fok, dit was roekeloos.” Ons kyk vir mekaar en beide bars uit in lag stuipe. Die stress en aanloop van die vorige paar maande skiet los binne ons, onbeheersd, kind. Ons trek in by ons nuwe plekkie, vat hande en dank ons Skepper vir ’n veilige reis.
“Ok, gameplan”, sê Rudi. “Ek scheme ons los eers die tasse en skep ‘n bietjie asem”. Ons los die gelaaide Jimny net waar hy is, kry vir ons twee stoele en gaan sit dit in die middel van die bos. “Dis ek en jy en die bos, skat – jy reg vir dit?” vra Rudi met ’n sagtheid in sy oë. “Saam jou pak ek die bos met ’n smile aan. Dalk eindig ons nog dieper op in die bos, dalk die Kalahari?” spot ek. Ek weet Rudi se gunsteling boek is ‘Cry of the Kalahari’ en ek voel geëerd om sy span maat te wees in ons eie nuwe avontuur. Ons word onderbreuk deur ’n Njala bul wat ons kom welkom heet. Ja, hier sal ek myself kan vind, dink ek hardop, min wetend wat vir ons voorlê net ’n skamelinge twee weke verder.
