Die vyftiende Februarie kondig homself aan sonder dat ons werklik daarvan kennis neem. Ons een-jaar merk in die bos. Om alles op te som wat die laaste jaar hier afgespeel het gaan lank vat – dis ’n proses wat beide ek en Rudi nog ietwat mee sukkel. Ons vat ons tyd om al die ervarings in die regte files te liasseer in ons kop. Van die experiences wil ons diep gaan wegbêre. Soos gevaarlike klein gekolde katte wil ons hulle in ’n bak begrawe en die deksel styf toemaak. Maar soos ons wyse Tante altyd sê; “die katte moet vrygelaat word – die deksel moet af”.
Die lesse van vertroue, stil word en regtig in voeling leef met ons essensie, word stadig maar seker geïntegreer in ons bos-leefstyl. Die natuur het ons baie kom leer. Ek dink aan wat die wyse Oom Paul geskryf het; “mens moet leef deur te glo en nie deur te sien nie”. Die natuur het ons kom leer glo, in wat ons wel sien…
Hoedspruit is ’n smorgasbord vir enige voël-kyk liefhebber. Met oor die vyfhonderd verskillende spesies wat hier pronk, kan mens jou ure verkyk. My Oupa het altyd gepraat van “diere-politiek” en ek wens baie dae dat Oupa hier was om al die politiek tussen die voëls te kon beleef. Ons noem dit ons bosveld-televisie. Die Neushoringvoëls het ons geleer het die attitude. Hulle loop en moeilikheid soek so ver hulle gaan en verwoes ons Drolkewer se voor venster op ’n daaglikse basis. Ons is verby die punt wat ons die venster weer gaan laat regmaak – bushveld-living.
My Tannie kom maak ’n draai by ons in die Laeveld en is skoon opgewonde om te hoor dat haar gunsteling voëltjie, die Blou Sysie, ’n permanente inwoner by ons is. Met ons koms in die bos was ek trots op my verskillende voël kennis. Ek kon spog met kiewiete, duiwe en hadidas wat die aand klok lui in die stad. Hier en daar kon ek tot my skoonsus verbaas met die regte uitkenning van ’n Mikstert-byvreter. Dit was wel van korte duur toe ek begin cocky raak en die laksman verwar met ’n kakelaar. As enige iemand wat my ken vir my gesê het hoeveel ure ek gaan bestee aan die voël ryk verken, sou ek gelag het en hulle mooi aan gespoor het om te gaan doppies blaas. Hoe verkeerd was ek nie…
Toe ek nog hier in die bos se siekeboeg gelê het, het die voël geluide my geselskap gehou. Na talle slapelose nagte het die Visarend my altyd laat weet wanneer die oggend aangebreek het. Die Withelmlaksman gang se geraas was my motivering om ‘net een keer’ om die huis te stap. Gedurende die donker maande het ek nuwe dieptes van vertroue moes ontdek. Ek kan nie onthou wie dit gesê het nie, maar weet uit ervaring dis waar. “You can have a million problems until you have a health problem. Then you just have one problem.”
Met te veel seerkry wat my verlede inkleur, het ek geleer om nie mense te veroordeel oor hulle eie vertrouens reis nie. Ek het geleer dis ’n persoonlike ding. Nes ek nooit my verhouding met my Pappa Gerald kan vergelyk met die verhouding wat my broers met hom het nie, net so kan ek niemand voorskryf. Ek kan net praat van my eie vertrouens-pad wat ek moes loop.
Ek het geleer dat vrees nie van my Skepper af kom nie. So ook nie twyfel… Hoeveel keer word daar dan nie aangespoor om alles by Sy voete te los nie? Hoeveel keer word daar tog nie geskrywe dat ons nie moet bang wees nie? Soos die seisoene draai en die blare weer begin val om reg te maak vir winter, ontdek ek weer Oom Matteus se skryfwerk. “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle.”
Na ’n volle jaar in die bos kan ek van ’n ‘feitlike’ oogpunt sê die derduisende voëls hier in die Spruit lei nie honger… Ek het al orals gesoek – daar is geen skure waarin hulle hul sade, insekte, bessies of neute stoor nie. Hulle word voor gesorg. Ek onthou nog goed – toe die fisiese pyn ondraaglik was en my vel gevoel het of hy in die blou vlam gedoop is, word ek verbaas deur ’n Grootjagarend wat kom land op ons voorstoep. Op dié stadium het ek gepleit vir verlossing, vir vryheid. Die jaloesie het in my opgestoot en ek het gewens ek kon, nes dié arend, weg vlieg.
Van die talle lesse wat die bos en natuur ons al kom leer het, is daar een wat my lewe lank my sal by bly. Dit is die les van die voëls. Dis ’n les van vertroue, en die enigste een wat ek gaan opskryf om ons jaar-merk in die bos te onthou. Ek het alleen, in die donkerste plek, die Grootjagarend gesien – Rudi was by die apteek. Die dag wat ek dié arend gesien het, het ek dit gelees as ’n teken van weg, uit, hardloop. Maar nou weet ek dié teken het gegaan oor vertroue, vir my bedoel in ‘n moeilike tyd… “Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met Arends vlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Met ’n dankbare hart en my vertroue by my Skepper se voete, sien ek uit vir nog ’n ontdekkings jaar in die bos.
