Sigrets in ons Drolkewer

S

Soos regte bobbejane hang ons by die ruite uit. Blaas by die oop vensters die rook walms sodat dit nie die kar op stink. Nes plaasboere is die kep op en almal word vriendelik in die verby ry gegroet. Dan kom die laaste trek en die doodmaak is nou ‘n probleem. Ons gee om vir die environment, geen sigrets mag geskiet word nie. Die borde sê ry ‘30km/h’, because why? ‘We C.A.R.E’. Ons verstaan waarvoor die ‘E’ staan, we care for our ENVIRONMENT. Jy hang jou hand by die venster uit en rol strategies die outjie dood. Want, let’s be honest, die vrou by die huis het uitdruklik rook in die kar verbied.

Die vrou by die huis is my eie skuldgevoelens. Jare se te veel na my eie kopvergaderings luister en die Tante by die NG kerk se menings oor vroulike gedrag. ‘n Lady rook nie. In die Drolkewer los ek die vrou by die huis. Ek channel my oorle Oupa. Ek sien hom in my geestes-oog. In die bakkie, met sigret in die mond word die plaaspaaie gejaag dat die stof staan.

Ek probeer terug dink hoekom ek aanvanklik in die kar begin rook het. As ‘newby’ was dit altyd buite die kar. Jy weet, parking lot vibes. Eintlik eers die vape gekap en toe opgegradeer na ’n zaan. Net soveel vapesap-geure wat ek kan verdra. 

Dan herroep ek die SkyNews-leser van vanoggend en die ‘extreme precautions’ wat geneem word teen ‘scorching thirty-five degree heat’. Ek loer gou af en kyk na die huidige temperatuur in die Spruit. Foon app sê dis vier-en-dertig. Cool. Die pommies suffer meer. Ek scroll af na die ‘feels like’ seksie. Ja nee hel, ‘feels like thirty-nine’. Ek oorweeg my eie maatreëls wat getref is teen die hitte. En dan slaan dit my. Rook in die Drolkewer is my onbewuste ‘precaution’.

Deur Elné Potgieter

Elné Potgieter

Meer oor die skrywer

Elné is 'n rebel en avonturier uit die Vrystaat. Haar swerflus en verskeidenheid stokperdjies het haar al regoor die wêreld geneem. Met 'n agtergrond in joernalistiek en strategiese kommunikasie, rig sy haar aandag op betekenisvolle Suid-Afrikaanse projekte. Sy is nou besig om haar nuutste avontuur aan te pak, waar sy met pen en papier mense aan die dink sit.