Chats bou by die salon

C

Die haarsalon is nog altyd gelabel as die nommer een radio stasie vir die dorp se skinder nuus. Net so in die laeveld, as jy wil weet wat gaan aan in Hoedspruit – gaan salon toe. Na twee jaar van geen punte sny en lyk soos Nina van die bos, besluit ek op ’n snot warm Woensdag oggend om die lanie salon op die dorp ’n kans te gee.

Ek word vriendelik gegroet by die deur en gevra om te wag – Tannie Sue se highlights gaan ongelukkig nog ’n paar minute wees, die buzzer sê tien. Ek trek ’n tydskrif nader, maar kan nie help luister na die mediese fonds galbraak wat die hele salon in rep en roer het nie. “Kan jy glo die mediese fonds het nie ’n sent vir Annatjie uitbetaal nie?”, kom die gekla van onder ’n haardroër. “Ja, hulle betaal niks uit vir ‘pre-existing conditions’ nie. Annatjie het nog net een keer in haar lewe Urbanols gedrink, hoe moes sy nou weet sy is kronies depressed?” “Mediese fondse is net ’n spul kans vatters. Het jy geweet in Italië is die staats diens beter as privaat?” “Jy waag jou lewe as jy hier in ’n staats hospitaal in stap,” kap die Tannie uit die hoek wat wag op haar beurt by die wasbak.

Ek dink aan my eie kwart-miljoen-rand se mediese skuld. Selfs op die bekendste mediese fonds se ‘derde top plan’ wou hulle niks uitbetaal vir my 2023 ordeal nie. Gelukkig het ek nou aandele by die patologie-labratorium, of mens sal so hoop. “Dis maklik om moedeloos te raak oor ons mediese sorg, die dokters hier wurg die pasiënte deur soos ’n wors-masjien” sê die styleerder. Dis nie AL die dokters nie, dink ek by myself…

Die mediese fondse betaal die dokters net vir vyftien-minuut konsultasies en selfs dan is dit maar ’n skaamtelike paar rand wat hulle beried is om neer te sit. Menigde kampvuur gesprekke met ’n familie vol dokters het hierdie topic al tot verveelens toe gehoor. “Hoe kan jy in vyftien-minute ’n volle geskiedenis, deeglike ondersoek, behandelings plan, voorskrifte en verwysings reg hê?” is die normale gekla van die dokters in die familie. Dis nie te sê daar is ’n groot meerderheid dokters wat die wors-masjien model wel geniet nie. ’n Turnover van dertig pasiënte per dag is mos lekker vir die sak? “Nie as jy regtig omgee vir die mense nie,” is die sentiment om die kampvuur. “Arm gatte sal ons bly,” sê my broer terwyl hy ‘vow’ om nooit geld bo pasiënte te sit nie.

Terug by die salon en Oom Pieter wat wag vir sy vrou se ‘perm’ sit skielik twee-en-twee bymekaar. “Wag, is jy nie die dokter op die hoek se vrou nie – ek erken jou van sy spreekkamer fotos”. Ek weet met die “ja” gaan ek ingetrek word. Ekt dit nog skaars gedink en Tannie Sue wil weet hoe voel ek en my man oor die mediese fondse. 

Nou moet ek my woorde mooi tel, want hier kry stories voete. Wat ek wil sê is hulle is useless. Die CEO’s van die mediese fondse, (probably almal ’n spul CAs), gee ’n blou fok vir Jan-alleman. Hulle gee om dat al hulle sleutel prestasie maatstawwe, of ‘KPI’s’ voldoende is en die ‘Annual General Meeting’ goed reflekteer by die raad van direkteure. Dit sê ek nie hardop nie. “Ag, ek weet baie mense sukkel met die mediese fondse, dis hoekom my man maar ’n kontant-praktyk bestuur. Hy doen wel die moeite om al die mediese fonds vorms in te vul sodat die pasiënte kan terug eis.” “Werk jou man nie met die mediese fondse nie?” “Nee, daar is te veel.” Ek sien die verwarde kyke en die veroordeling wat my arme man, wat nie eers teenwoordig is nie, nou van Hairspray kliënte af kry. “Daar is huidiglik ses-en-sewentig mediese fondse in Suid-Afrika. Elkeen maar met sy eie stel reëls. Dit is ’n groot storie vir ’n dokter om aan almal se vereistes te voldoen.” “Ses-en-sewentig!?” deins Oom Pieter. “Ja, in 2000 was dit honderd-vier-en-veertig mediese fondse, gelukkig is dit nou al bietjie minder.”

Ek dink aan Tannie Sue se opmerking vroeër oor Italië. Daar het slegs 0.2% mense mediese verskering. Die belasting gefienansierde ‘Servizio Sanitario Naionale’ gee mediese-sorg spot goedkoop of self verniet vir hulle burgers. Eerste wêreld lande. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is nog vol moed vir Suid-Afrika. Ek plaas wel nie my hoop in die regering nie, maar in die burgers van die land. Ek weet ons mense kan. “Jy kan maar deur kom,” roep die styleerder my. Dankie tog, hopenlik maak die Tannie langs my se staan-haardroër nou genoeg geraas dat ek in stilte my punte kan laat sny.

Deur Elné Potgieter

Elné Potgieter

Meer oor die skrywer

Elné is 'n rebel en avonturier uit die Vrystaat. Haar swerflus en verskeidenheid stokperdjies het haar al regoor die wêreld geneem. Met 'n agtergrond in joernalistiek en strategiese kommunikasie, rig sy haar aandag op betekenisvolle Suid-Afrikaanse projekte. Sy is nou besig om haar nuutste avontuur aan te pak, waar sy met pen en papier mense aan die dink sit.